Die soutkoekie houer se swart plastiek het die buitekant van daardie seep donkerder gekleur, so ek sal dit nou nie sommer weer as gietvorm gebruik nie aangesien die plastiek so afgee aan die seep. Op Foto 2, geneem na 'n maand se kuur, kan jy sien waar die donker buiterand afgesny is en die ligter binnekant wys. Met die 250ml jogurt bakkie vorm was dit baie moeilik om die seep uit te kry, so dit sal nou ook nie sommer weer gebeur nie.
Ek het hierdie batch gekleur met 'wheat grass' poeier, maar op Foto 2 is dit duidelik dat die groen nie juis gehou het nie. Sitronella olie is bygevoeg vir reuk, en na 'n maand ruik dit nog vars. Die seep het bie vinnig begin stol so ek sal op 'n vroeër stadium moet begin om al die bykomstighede by te voeg sodat dit nie so dik raak voor ek dit in die houers het nie. Hierdie behoort teen 31 Mei reg te wees.
Ek sukkel nog om die seep in ewe groot blokke gesny te kry en sal moet 'n sny sjabloon van een of ander aard ontwikkel, want ek kan nie al daai dollars vir 'n 'fancy' Amerikaanse seepsnyer uithaal nie.
Foto 1, SB 7 en 9 [silinder links voor] |
Foto 2, SB7 gesny |
Foto 3, SB 8 en 9 pas uit die gietvorms en reg om te droog |
Foto 4, SB 8 en 9 na 'n maand se kuur |
Die mengsel vat baie lank om te begin traseer en later span ek die staafmenger in om die proses aan te help. Dit stol ook nie so vinnig nie en ek het genoeg tyd om met 'n sosatiestokkie patrone bo-op te maak voordat ek dit eenkant sit om te droog. Twee dae later toe ek dit uit die gietvorms haal het die seep 'n gladde tekstuur soos varkvet seep, en ek is eintlik bietjie spyt dat ek die vlassaad bygesit het. Die reuk was reeds hier nie baie sterk nie. Op Foto 4 is die ligter sepie die van SB 8 na 'n maand se kuur. Daar is steeds 'n ligte reuk aan die seep en die tekstuur bly glad en aangenaam om aan te voel.
SB9 was 'n mengsel van kafee olie en varktjop olie. Omdat SB8 baie lank geneem het om te traseer het ek besluit om die twee olies te meng. Op hierdie manier gee dit die sonneblom van die kafee olie 'n sagter tekstuur, en die tyd wat dit neem om te traseer is bietjie stadiger as skoon kafee olie en bietjie vinniger as die varkvet olie mengsel. Ek gooi ongebruikte gemaalde koffie by en vanilla essens. Dit word gegiet in 'n Pringles houer, sien silinder vorm op Foto 1, en van die bakkies wat soos 'n sepie gevorm is, donkerder seep op Foto 3.
My aanname rakende die traseer tyd was korrek. Die reaksie neem langer as kafee olie alleen, maar nie so lank dat ek die staafmenger benodig nie. Die bakkies werk goed om die seep te vorm, maar die seep wat in die Pringles houer gegiet is vertoon mooier en ruik ook sterker as die in die bakkies nadat dit uit die gietvorms gehaal is.
Op Foto 4 is die seep nadat dit vir 'n maand gekuur het. die seep wat in die bakkies gegiet is het baie as om die kante gevorm terwyl die wat in die silinder vorm was nie het nie. Laasgenoemde se reuk is ook baie sterker as die wat in bakkies was. Dit ruik na 'n maand nog na vanilla koffie, maar die reuk is nie baie sterk nie.
Na SB7, 8 en 9 het ek tot die gevolgtrekking gekom dat ek beslis sal moet planmaak met die snyery, dat die silinder vorm die beste werk om die seep mooi te vorm en om die geure en kleure vas te vang, so die konsep moet verder ondersoek en ontwikkel word en aangesien ek nie 'n onbeperkte bron van Pringles houers het nie sal ek 'n ander plan moet maak.
SB10 en 11 maak ek op 27 April 2016 en dit was so onnoemenswaardig dat ek nie eers fotos daarvan het nie. My sussie het vir my twee bottels ongebruikte atjar olie gegee wat wie weet hoe lank in haar spens gestaan het. Eers het dit my ure geneem om vas te stel watse kleurmiddel in die olie gebruik is, want as dit rooipeper is sal die seep mens se vel brand en sal ek dit nie kan gebruik nie. Toe ek vasstel dat dit net met paprika so rooi gekleur word besluit ek om tog maar 'n poging aan te wend. Intussen het ek pietersielie en paprika in canola olie ingelê om te kyk of dit as kleurmiddel vir die seep sal deug. Boonop het pietersielie soveel ander vel voordele dat dit in my kop net goed kan wees om so te gebruik. Omdat die atjar olie reeds met paprika gekeur is besluit ek om net van die pietersielie by te sit.
SB 10 se konkoksie bestaan nou uit atjar olie, pietersielie-canola olie, seepsoda, water, die stokkies van 2 gebruikte rooibostee sakkies was saam met vlassaad gemaal is roos- en vanilla essens, en bloekom olie omdat ek dit in die kas het.Die resultaat was skrikwekkend! Die mengsel het so vinnig begin dik word daar was nie eers tyd om te dink nie en ek moes dit met die lepel in die lang plastiekpanne in smeer. Daar reeds het ek besef dié kombinasie van reuke is nie 'n wenner nie. Toe ek dit die volgende dag sny het die rooibosstokkies sulke skerp puntjies gemaak en ek kon myself net indink dat dit heel onaangenaam teen jou vel kan wees. Tog het ek vasgebyt en die blokke netjies in 'n boks gepak en buite gesit om te droog. Na 'n paar kon ek dit nie meer hou nie en het ek van die hele spul, insluitend die bloekom olie, ontslae geraak.
By SB11 het ek van die varktjop olie bygesit om die trasering te vertraag, dit het gewerk. Die konkoksie was atjar olie, varktjop olie, seepsoda, water, ongebruikte gemaalde koffie en vanilla essense wat so goed gewerk het in SB9 hierbo. Weer sit ek pietersielie-canola by. Hierdie keer meng ek die koffie net in die helfte van die seepmengsel in en gooi dan die ligte kleur koffie kleur terselfdertyd in Pringles houers. Met die sny slag kan ek sien dat die twee kleure wat saam gegiet is estetiese waarde tot die seep voeg, maar die reuk is nie so lekker nie. Tog sny ek dit klaar en sit dit buite om te droog. Gelukkig het dit laas naweek nat gereën en kon ek dit uiteindelik weggooi sonder dat dit my gewete te veel pla.
Uit SB10 en 11 het ek geleer dat jy moet seker maak dat jou olie nie galsterig is voordat jy daarvan probeer seep maak. Die galsterige olie maak sulke bros korrelrige seep blokke, en dit stink.
SB 12 maak ek op 1 Mei en noem dit KAMPSEEP. Dit bevat herwinde olie, neutmuskaat, borrie en sitroenella en word in melkhouer gietvorms gegiet.
Ek hou van die reuk, van die kleur en van die tekstuur, so die is 'n resep wat ek sal hou. Ek hou ook daarvat dat dit 100% herwinde olie bevat, dit dra vir my by tot die groen voetspore konsep waarmee ek werk.
Ongelukkig het ek te lank gevat voor ek dit gesny het, en ek het nog nie geweet hoe om dit met die nylon garing te sny nie, so toe ek dit met 'n mes probeer sny was dit nie 'n baie suksesvolle poging nie. Ek het die blokke net so laat droog word en toe vir my 'n krinkelsnyer op bidorbuy bestel... Ek wag nog vir dit om afgelewer te word.