Pages

Saterdag 21 Mei 2016

Herwin oorskietseep

Hierdie was nou 'n seepmaak waarna ek lank opgesien het, omdat dit nie regtig seepmaak is nie, maar meer hergiet van ou seep.
So, op 14 Mei 2016 vat ek uiteindelik die ongeveer 1liter roomysbak vol stukkies seep uit alle oorde en maal dit fyn. die meeste van die winkelseep was so droog dat dit letterlik in poeiervorm uit die meul gekom het. Die oorskiet stukkies handgemaakte seep was meer vogtig en het tipiese vleismeul spaghetti gevorm.
Nadat ek al die seep gemaal en in my oondvaste emalje bak gesit het gooi ek net genoeg warm water oor dat dit gelyk lĂȘ met die seepvlenters. Ek sit die deksel op en laat dit oornag staan. Sondagoggend haal ek die deksel af en vind dat al my gemaalde seep een soliede koek gevorm het, kliphard en rond soos 'n seepkoek.  Ek besluit toe om nie te vinnig tou op te gooi met die proses nie en sit die hele bak net so in die oond @ 100 Celsius. Elke kort kort loer ek en stadig maar seker begin die koek smelt. Intussen begin ek met ander dinge en net toe ek lank genoeg nie loer nie; toe kook die spul oor!
Nou met ek vinnig werk, anders is die hele spul seep daarmee heen. Ek tap warm water en die wasbak en sit die emalje bak daarin. Nou roer ek die slymstorie, en dit lyk darem of daar iets van kan kom. Om op te maak vir al die gliserien wat verlore gegaan het in die winkelseep vervaardiging gooi ek 2 eetlepels vol gliserien by. Dit roer mooi in, en niks het nog gestol nie, maar die seep is so lelik, so snaakse grysblou kleur van al die stukkies wat nou gemeng het. Om 'n meer uniforme kleur te probeer kry gooi ek 'n teelepel borrie by en roer dit deur. Met my seep nou 'n gelerige slymerige spul met vlekkies wat dit amper soos graniet laat lyk giet ek dit in oopgesnyde 1liter melkhouers, sit dit eenkant om af te koel en begin met die skoonmaakproses.
Nadat ek al die houers en die oondrakke en die lekbak gewas het tree my ongeduldige self na vore en ek sit die houers met seep buite, aangesien laas naweek se weer voordelig was om enige iets af te koel. Na 'n paar uur is die seep so dat ek dit uit die gietvorms kan haal. Ek sny die blokke in kleiner dele met tandevlos, en dit werk heel effektief. Die twee melkhouers lewer 16 blokke wat min of meer 2cm dik is.


Na 'n week se droging lyk die geel bietjie meer groen, maar dit ruik nogsteeds baie soos winkelseep. Dis ook bietjie minder geel, en meer van 'n blou-groen tipe kleur. Dit is egter nog redelik vogtig, ek dink dit moet nog ten minste twee weke droog voor dit weggegee kan word.

Ek hou nie eintlik van die proses nie omdat jy die seep moet warm maak, en dit dan so dikkerige slymerige massa raak.Die hele verhitting ding haal vir my die 'groen' uit die herwinning uit, want alhoewel jy nou weer bruikbare seepkoekies vorm uit weggooi stukkies gebruik jy elektrisiteit in die proses. Ek veronderstel as jy nou die som gaan maak van hoeveel die uur se oondkrag kos, teenoor hoeveel handjies met daardie seep gewas kan word en hoeveel siektes voorkom kan word, sal die herwinning tog koning kraai, veral as jy die kostes van medisyne, produktiwiteitsverlies ens. ook begin optel.
Volgende keer moet ek net die oond nog koeler stel want dit vat nie baie hitte om seep te laat smelt nie.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking