Na tien jaar se aan-en-af opbreek en bou het die dame in blou uiteindelik by 'n punt gekom waar sy tot so 'n mate voltooi is dat sy ieder op 'n bord vasgeplak of in die asblik hoort; en toe lê sy die hele eetkamertafel vol. Nadat ek by drie verskillende skryfbehoeftehandelaars nie 'n groot genoeg karton kon opspoor nie, stap ek uit pure desperaatheid by 'n plastiekwarewinkel in en hoop om iets raak te sien wat moontlik kan werk. Van dit wat te koop aangebied is kon niks deug nie, maar toe ek opkyk sien ek die groot winkelplakkate waarop winskopies geadverteer word. Ek vra toe of dit vir my moontlik sal wees om een van die ou plakkate te koop, of te kry... maar die entoesiasme daar was nie vreeslik hoog nie.
My volgende stop was die Pick 'n Pay. Nadat ek al my goetertjies opgespoor en betaal het vra ek vir die kassier wie vandag die bestuurder is, en ek verduidelik dat ek graag een van die paasfeesplakkate sou wou hê. My versoek is hier baie meer openhartig oorweeg en voor ek by die deur uit is het ek twee paasfeesplakkate om my legkaart op vas te plak. Na 'n hele nag se blokkies plak en ernstige agtergrondkroekery is die dame stewig op winkelplakkaat vasgesit en wag nou om geraam te word.
Ek sien uit daarna om haar teen die muur te kan hang en my kinders te kan vertel van lank lank gelede toe daar 'n man was met die naam Leonardo da Vinci...
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking