Vandag word kafee olie op die proef gestel
Ek het die olie eers deur 'n doek gesyg om seker te maak daar is nie soliede stukkies ou kos wat agter gebly het nie. Buiten vir die donker kleur was dit verbasend vry van enige ou kos. Leë melkhouers wat oop gesny is dien as gietvorms met 'n bespoke boksie wat netjies daarom pas om die kante regop te hou. Ek het dit uitgevoer met herwonne papier en ek hoop dat dit sal help met die uithaalslag.
Nadat die olie en seepsoda oplossing 'n emulsie gevorm het het ek die staafmenger gebruik om vinniger by die trasseerstadium uit te kom, maar dit blyk onnodig te wees want die emulsie verander baie vinnig in 'n dik taai mengsel wat amper lyk soos gekookte kondensmelk. Omdat dit so vinnig dik geword het moes ek dit met 'n lepel in die gietvorms in druk; dit was glad nie meer vloeibaar nie.
Hierdie seep kan op die vroegste op 11 April 2016 uit die gietvorms gehaal word om gesny te word. Ek hou maar duime vas dat daar nie te veel lugborrels tussen in beland het nie.
Op 12 April haal ek die seep uit die gietvorms... die papier voerings wat ek gebruik het het vasgeplak!
Nadat ek die papiere met moeite verwyder het lyk die seep maar oes. Dit het redelik min lugborrels aan die binnekante en dit het 'n mooi redelik uniforme karamel kleur. Dit ruik baie lekker.
Hierbo is die seep soos dit uit die melkhouer gietvorms gekom het. Buiten vir die papier wat vasgeplak het hou ek steeds nie van die vorm nie. Ek sal maar verder eksperimenteer totdat ek iets kry waarmee ek tevrede is.
Ek het twee van die drie blokke in 'n vleismeul gemaal. Ek het dit eers oorweeg om dit te laat smelt oor hitte en dan weer te giet, maar dan gaan die groen effek van die hele ekskursie vir my verlore. Dit help veel jy herwin ou olie, maar gebruik 'n ton steenkool se elektrisiteit om dit te verwerk nie. Ek dink ek moet eerder hierdie seepwurmpies as insetsels in ander seep gebruik as om dit te smelt.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking