Pages

Saterdag 08 Oktober 2016

Vinnige sprouts

Verhoog die voedingswaarde van sade en peule deur dit te laat uitloop voor jy dit eet. Dit maak ook die harde sade meer verteerbaar en is vriendelik met jou tande. Fenugreek loop vinnig uit en pas by ongeduldige persoonlikhede.

Saterdag 21 Mei 2016

Wat het geword van SB7-SB12?

SB7, 8 en 9 is al 3 op 16 April gemaak. SB7 was kafee olie seep waar ek van 'n vorige batch se gemaalde spaghetti vorms in die nat seep gegiet het. Dit is die twee lang ovaal vorms op Foto 1 hieronder. Van die mengsel wat te veel was het ek in 'n jogurt bakkie gegiet, heel regs, en die res in 'n leë soutkoekie houer. Dit was 'n interessante eksperiment en die gemaalde seep het baie mooi met die nat mengsel gebind en 'n baie mooi patroon gelaat wanneer die seep deurgesny is.
Die soutkoekie houer se swart plastiek het die buitekant van daardie seep donkerder gekleur, so ek sal dit nou nie sommer weer as gietvorm gebruik nie aangesien die plastiek so afgee aan die seep. Op Foto 2, geneem na 'n maand se kuur, kan jy sien waar die donker buiterand afgesny is en die ligter binnekant wys. Met die 250ml jogurt bakkie vorm was dit baie moeilik om die seep uit te kry, so dit sal nou ook nie sommer weer gebeur nie.
Ek het hierdie batch gekleur met 'wheat grass' poeier, maar op Foto 2 is dit duidelik dat die groen nie juis gehou het nie. Sitronella olie is bygevoeg vir reuk, en na 'n maand ruik dit nog vars. Die seep het bie vinnig begin stol so ek sal op 'n vroeër stadium moet begin om al die bykomstighede by te voeg sodat dit nie so dik raak voor ek dit in die houers het nie. Hierdie behoort teen 31 Mei reg te wees.
Ek sukkel nog om die seep in ewe groot blokke gesny te kry en sal moet 'n sny sjabloon van een of ander aard ontwikkel, want ek kan nie al daai dollars vir 'n 'fancy' Amerikaanse seepsnyer uithaal nie.
Foto 1, SB 7 en 9 [silinder links voor]
Foto 2, SB7 gesny
Foto 3, SB 8 en 9 pas uit die gietvorms en reg om te droog

Foto 4, SB 8 en 9 na 'n maand se kuur

SB8 [sien Foto 3, die ligter kleur sepies] was van gebruikte olie waarin varktjops gebraai is.  Vir kleur voeg ek paprika by, probeer vanilla essens en reukolie, en gooi gemaalde vlassaad by om 'n eksfoliasie effek aan die seep te gee. dit word gegiet is plastiek bakkies wat reeds 'n klassieke seep vorm lewer, dus poog ek om die sny probleem so op te los. Intussen het ek ook 'n silikon gietvorm aangeskaf wat die ronde sepies vorm.
Die mengsel vat baie lank om te begin traseer en later span ek die staafmenger in om die proses aan te help. Dit stol ook nie so vinnig nie en ek het genoeg tyd om met 'n sosatiestokkie patrone bo-op te maak voordat ek dit eenkant sit om te droog. Twee dae later toe ek dit uit die gietvorms haal het die seep 'n gladde tekstuur soos varkvet seep, en ek is eintlik bietjie spyt dat ek die vlassaad bygesit het. Die reuk was reeds hier nie baie sterk nie. Op Foto 4 is die ligter sepie die van SB 8 na 'n maand se kuur. Daar is steeds 'n ligte reuk aan die seep en die tekstuur bly glad en aangenaam om aan te voel.

SB9 was 'n mengsel van kafee olie en varktjop olie. Omdat SB8 baie lank geneem het om te traseer het ek besluit om die twee olies te meng. Op hierdie manier gee dit die sonneblom van die kafee olie 'n sagter tekstuur, en die tyd wat dit neem om te traseer is bietjie stadiger as skoon kafee olie en bietjie vinniger as die varkvet olie mengsel. Ek gooi ongebruikte gemaalde koffie by en vanilla essens. Dit word gegiet in 'n Pringles houer, sien silinder vorm op Foto 1, en van die bakkies wat soos 'n sepie gevorm is, donkerder seep op Foto 3.
My aanname rakende die traseer tyd was korrek. Die reaksie neem langer as kafee olie alleen, maar nie so lank dat ek die staafmenger benodig nie. Die bakkies werk goed om die seep te vorm, maar die seep wat in die Pringles houer gegiet is vertoon mooier en ruik ook sterker as die in die bakkies nadat dit uit die gietvorms gehaal is.
Op Foto 4 is die seep nadat dit vir 'n maand gekuur het. die seep wat in die bakkies gegiet is het baie as om die kante gevorm terwyl die wat in die silinder vorm was nie het nie. Laasgenoemde se reuk is ook baie sterker as die wat in bakkies was. Dit ruik na 'n maand nog na vanilla koffie, maar die reuk is nie baie sterk nie.

Na SB7, 8 en 9 het ek tot die gevolgtrekking gekom dat ek beslis sal moet planmaak met die snyery, dat die silinder vorm die beste werk om die seep mooi te vorm en om die geure en kleure vas te vang, so die konsep moet verder ondersoek en ontwikkel word en aangesien ek nie 'n onbeperkte bron van Pringles houers het nie sal ek 'n ander plan moet maak.

SB10 en 11 maak ek op 27 April 2016 en dit was so onnoemenswaardig dat ek nie eers fotos daarvan het nie. My sussie het vir my twee bottels ongebruikte atjar olie gegee wat wie weet hoe lank in haar spens gestaan het.  Eers het dit my ure geneem om vas te stel watse kleurmiddel in die olie gebruik is, want as dit rooipeper is sal die seep mens se vel brand en sal ek dit nie kan gebruik nie. Toe ek vasstel dat dit net met paprika so rooi gekleur word besluit ek om tog maar 'n poging aan te wend. Intussen het ek pietersielie en paprika in canola olie ingelê om te kyk of dit as kleurmiddel vir die seep sal deug. Boonop het pietersielie soveel ander vel voordele dat dit in my kop net goed kan wees om so te gebruik. Omdat die atjar olie reeds met paprika gekeur is besluit ek om net van die pietersielie by te sit.
SB 10 se konkoksie bestaan nou uit atjar olie, pietersielie-canola olie, seepsoda, water, die stokkies van 2 gebruikte rooibostee sakkies was saam met vlassaad gemaal is roos- en vanilla essens, en bloekom olie omdat ek dit in die kas het.Die resultaat was skrikwekkend! Die mengsel het so vinnig begin dik word daar was nie eers tyd om te dink nie en ek moes dit met die lepel in die lang plastiekpanne in smeer. Daar reeds het ek besef dié kombinasie van reuke is nie 'n wenner nie. Toe ek dit die volgende dag sny het die rooibosstokkies sulke skerp puntjies gemaak en ek kon myself net indink dat dit heel onaangenaam teen jou vel kan wees. Tog het ek vasgebyt en die blokke netjies in 'n boks gepak en buite gesit om te droog. Na 'n paar kon ek dit nie meer hou nie en het ek van die hele spul, insluitend die bloekom olie, ontslae geraak.
By SB11 het ek van die varktjop olie bygesit om die trasering te vertraag, dit het gewerk. Die konkoksie was atjar olie, varktjop olie, seepsoda, water, ongebruikte gemaalde koffie en vanilla essense wat so goed gewerk het in SB9 hierbo. Weer sit ek pietersielie-canola by. Hierdie keer meng ek die koffie net in die helfte van die seepmengsel in en gooi dan die ligte kleur koffie kleur terselfdertyd in Pringles houers. Met die sny slag kan ek sien dat die twee kleure wat saam gegiet is estetiese waarde tot die seep voeg, maar die reuk is nie so lekker nie. Tog sny ek dit klaar en sit dit buite om te droog. Gelukkig het dit laas naweek nat gereën en kon ek dit uiteindelik weggooi sonder dat dit my gewete te veel pla.
Uit SB10 en 11 het ek geleer dat jy moet seker maak dat jou olie nie galsterig is voordat jy daarvan probeer seep maak. Die galsterige olie maak sulke bros korrelrige seep blokke, en dit stink.

SB 12 maak ek op 1 Mei en noem dit KAMPSEEP. Dit bevat herwinde olie, neutmuskaat, borrie en sitroenella en word in melkhouer gietvorms gegiet.
Ek hou van die reuk, van die kleur en van die tekstuur, so die is 'n resep wat ek sal hou. Ek hou ook daarvat dat dit 100% herwinde olie bevat, dit dra vir my by tot die groen voetspore konsep waarmee ek werk.
Ongelukkig het ek te lank gevat voor ek dit gesny het, en ek het nog nie geweet hoe om dit met die nylon garing te sny nie, so toe ek dit met 'n mes probeer sny was dit nie 'n baie suksesvolle poging nie. Ek het die blokke net so laat droog word en toe vir my 'n krinkelsnyer op bidorbuy bestel... Ek wag nog vir dit om afgelewer te word.

SB13 Sjampoo blokke, koue roermetode

Na die warm metode sjampoe blokke wat my vinnige toegang tot 'n bruikbare produk kon gee het ek ook op 13 Mei 2016 die koue roermetode aangedurf. Ek het 10g van die water met roosessens vervang om te probeer om die reuk vas te vang en 20 druppels Bergamot bygesit vir reuk, en omdat ek oortuig is daarvan dat Bergamot fantasties is vir haargroei. Na 'n week se kuur is daar steeds 'n ligte roos reuk, en die Bergamot is nie so oordonderend in hierdie maaksel nie. Hopelik sal dit pappatjie wel geval wanneer die 6 weke kuur verby is.
Ek het 'n polistireen roomyshouer wat met bakpapier uitgevoer is as gietvorm gebruik en dit het baie goed gewerk. ek sal die boksie beslis weer gebruik in die toekoms. Die bakpapier werk ook baie lekker ek kom maklik los van die seep wanneer jy dit uit die gietvorm haal. Die mengsel begin egter baie vinnig stol nadat dit traseerstadium bereik het en jy sal redelik vinnig moet giet as jy die bokant met 'n patroontjie wil versier. In hierdie geval het ek die bokant so goed moontlik met 'n slaplemmes platgevryf.
Die nylon garing is weereens ingespan vir die snywerk en dit maak netjiese skoon snitte deur die seep. As jy met 'n mes sny bars die seep soms wanneer jy aan die onderkant van die blok kom, maar met die garing sny jy reg rondom op dieselfde tyd en ondervind jy nie die probleem nie.

Na 'n week het die seep heelwat van die groen kleur van die olyfolie verloor en die kante is nogal skerp en kan dalk ongemaklik voel in jou hand. Ek sal dit met my nutsmessie moet afrond sodat dit lekker is om te gebruik. Hierdie seep sal teen 25 Junie die ses weke kuur deurstaan het.

Sjampoo blokke, staafmenger warmproses

Sjampoe in blokke? Wat 'n vreemde gedagte...
In 2016 is ons mos gewoond aan plastiekbottels met loperige sjampoe wat opgevolg moet word met romerige opknapper, veral in die wintermaande, ook uit plastiek bottels, en jy kan geld daarop sit dat jy die helfte van die bestanddele se name nie kan uitspreek nie! Dit het nie baie gekos om my te oortuig dat sjampoe blokke uit natuurlike olies 'n opsie is om sterk te oorweeg nie, en nadat die prinses vir die soveelste maal 'n hele houer vol sjampoe in die bad uitgespuit het wou ek so vinnig as moontlik oorskakel. Ek het 'n resep vir Kampeer sjampoe-seep op Dion se gedagtes gesien, al die YouTube videos wat ek oor sjampoe-seep kon kry gekyk, en toe, ook op YouTube afgekom op dié staafmenger warmproses...
Wat 'n fantastiese gedagte, jy maak jou basiese koue roermetode resep, en nadat die seep getraseer het klits jy dit met jou staafmenger deur al die warmprosesfases en na omtrent 10 minute BEHOORT jy seep te hê wat net moet stol en dan gebruik kan word. Dit het vir my geklink na 'n plan en ek het dadelik my resep uitgeskryf.

196g klapperolie
300g olyfolie
184g kasterolie [dit is hoeveel daar uit 'n 200ml bottel kom, en ek het die hele resep basies om dié onveranderlike geskryf]
6g soet amandelolie
253g H2O
98g NAOH
10ml Soet lemoen essensiële olie en net soveel Bergamot olie

Vinnig het ek al die goetertjies in die regte volgorde gemeng en die staafmenger ingedruk en begin klits. So ses minute in die proses in is my staafmengertjie vuurwarm, maar niks in daai bak lyk soos kapok aartappels wat binnekort 'n vulkaaneffek gaan ontplooi nie. My 200W menger het net nie genoeg woema om die proses te voltooi nie. 
Op daardie stadium het ek my gewend tot die mikrogolfoond, die seepmengsel in 'n glasbak met kleefplastiek bo-oor op 20% krag 1 minuut op 'n slag totdat dit uiteindelik soos seep geruik het.
Vandaar is dit in my getroue leë melkhouer gietvorms, en paar uur later toe dit afgekoel is het ek dit gesny in ongeveer 2cm wye blokke. Ek het nylon garing wat lyk soos baie dun vislyn gebruik om die seep te sny en dit werk vir my beter as die tandevlos.
 
Na omtrent 'n week se oopstaan om van oortollige vog ontslae te raak, en omdat ek wou seker wees dat  daar nie meer aktiewe seepsoda in die blokke is nie het ek Donderdagaand besluit om die seep op die proef te stel.  Ek het eers 'n BAIE onwetenskaplike eksperiment gedoen:
My redenasie was dat enige aktiewe seepsoda sal reageer wanneer ek die seep in water sit. Ek het die droë seep se temperatuur geneem, toe die toetsblokkie in water gegooi en weer die temperatuur geneem. Daar was geen styging in die temperatuur nie. Toe het ek die sepie uit die water gehaal en opgeskuim in my hande. Geen prikkel of brandgevoel van aktiewe seepsoda nie. Nou was ek in my gemoed oortuig dat die verseping inderdaad voltooi is êrens tussen my staafmenger en my mikrogolfoond.
Gisteroggend het ek die eerste keer my hare gewas met my sjampoe blok. Ek was verbaas oor die hoeveelheid sagte skuim wat die seepblok in my hare maak. Nadat die skuim afgespoel is voel jou hare bietjie anders as met konfensionele sjampoe. Dis nie so 'seepglad' nie, maar voel meer klewerig. Wanneer ek dit droogblaas het dit baie volume en geen statiese elektrisiteit nie. Vanoggend het ek dit weer gewas, nie omdat dit vuil was nie, maar omdat dit blykbaar omtrent 'n week se was neem om van al die ou seepreste en chemikalieë in jou hare ontslae te raak, so, hoe vinniger hoe beter. Nou moet ek net 'n ander geur as Bergamot ook vind, want dié is bietjie oordonderend en my man hou niks daarvan nie!

Ek hou nogsteeds nie van die warm seepmaak proses nie en verkies die koue roermetode omdat dit 'n baie meer netjiese produk lewer en 'n meer energiedoeltreffende manier is om seep te maak. As jy egter seep in 'n kits nodig het, is dit die warm metode wat jou daar gaan kry.

Herwin oorskietseep

Hierdie was nou 'n seepmaak waarna ek lank opgesien het, omdat dit nie regtig seepmaak is nie, maar meer hergiet van ou seep.
So, op 14 Mei 2016 vat ek uiteindelik die ongeveer 1liter roomysbak vol stukkies seep uit alle oorde en maal dit fyn. die meeste van die winkelseep was so droog dat dit letterlik in poeiervorm uit die meul gekom het. Die oorskiet stukkies handgemaakte seep was meer vogtig en het tipiese vleismeul spaghetti gevorm.
Nadat ek al die seep gemaal en in my oondvaste emalje bak gesit het gooi ek net genoeg warm water oor dat dit gelyk lê met die seepvlenters. Ek sit die deksel op en laat dit oornag staan. Sondagoggend haal ek die deksel af en vind dat al my gemaalde seep een soliede koek gevorm het, kliphard en rond soos 'n seepkoek.  Ek besluit toe om nie te vinnig tou op te gooi met die proses nie en sit die hele bak net so in die oond @ 100 Celsius. Elke kort kort loer ek en stadig maar seker begin die koek smelt. Intussen begin ek met ander dinge en net toe ek lank genoeg nie loer nie; toe kook die spul oor!
Nou met ek vinnig werk, anders is die hele spul seep daarmee heen. Ek tap warm water en die wasbak en sit die emalje bak daarin. Nou roer ek die slymstorie, en dit lyk darem of daar iets van kan kom. Om op te maak vir al die gliserien wat verlore gegaan het in die winkelseep vervaardiging gooi ek 2 eetlepels vol gliserien by. Dit roer mooi in, en niks het nog gestol nie, maar die seep is so lelik, so snaakse grysblou kleur van al die stukkies wat nou gemeng het. Om 'n meer uniforme kleur te probeer kry gooi ek 'n teelepel borrie by en roer dit deur. Met my seep nou 'n gelerige slymerige spul met vlekkies wat dit amper soos graniet laat lyk giet ek dit in oopgesnyde 1liter melkhouers, sit dit eenkant om af te koel en begin met die skoonmaakproses.
Nadat ek al die houers en die oondrakke en die lekbak gewas het tree my ongeduldige self na vore en ek sit die houers met seep buite, aangesien laas naweek se weer voordelig was om enige iets af te koel. Na 'n paar uur is die seep so dat ek dit uit die gietvorms kan haal. Ek sny die blokke in kleiner dele met tandevlos, en dit werk heel effektief. Die twee melkhouers lewer 16 blokke wat min of meer 2cm dik is.


Na 'n week se droging lyk die geel bietjie meer groen, maar dit ruik nogsteeds baie soos winkelseep. Dis ook bietjie minder geel, en meer van 'n blou-groen tipe kleur. Dit is egter nog redelik vogtig, ek dink dit moet nog ten minste twee weke droog voor dit weggegee kan word.

Ek hou nie eintlik van die proses nie omdat jy die seep moet warm maak, en dit dan so dikkerige slymerige massa raak.Die hele verhitting ding haal vir my die 'groen' uit die herwinning uit, want alhoewel jy nou weer bruikbare seepkoekies vorm uit weggooi stukkies gebruik jy elektrisiteit in die proses. Ek veronderstel as jy nou die som gaan maak van hoeveel die uur se oondkrag kos, teenoor hoeveel handjies met daardie seep gewas kan word en hoeveel siektes voorkom kan word, sal die herwinning tog koning kraai, veral as jy die kostes van medisyne, produktiwiteitsverlies ens. ook begin optel.
Volgende keer moet ek net die oond nog koeler stel want dit vat nie baie hitte om seep te laat smelt nie.

Maandag 25 April 2016

ñ Plannetjie met die aartappels

Vir lank het ek gewonder hoe om dié aartappelprobleem op te los, veral omdat die prinsesse gate al rondom die aartappels grou vir hul kasteel se boumateriaal terwyl ek probeer hopies maak vir die bolletjies om te kan vorm. Ek weet van die metode om ou motorbande daar om te pak, maar die idee van rubber en wie weet watter swaar metale so naby aan iets wat ek beoog om te eet 'freak' my net uit!
Vandag val dit my toe by dat daar 'n hele klomp bakstene agter die wendy huisie staan. Die natuurlike klei stene sal ook lekker warm bak nes die bande, en dit verloor stadig hitte wanneer dit aand word. Boonop is dit vry van chemikalieë wat in my kosbare aartappels kan insypel.
By die huis gekom na die swem het ons fluks die stene aangedra en muurtjies al om die plante gepak. Daarna het ons die dubbelsteenlaagmuur opgevul met lekker los grond.
Ek hoop dat hierdie poging my oes sal bevoordeel

Sondag 10 April 2016

SB6 S.A.L.M. eko SEEP van herwinde kafee olie II

Na gister se toffie taai seep het ek besluit om die selfde resep weer te probeer, maar die keer sal ek dit met die lepel roer tot dat dit traseer en ver weg bly van die staaf menger.

Die seepsoda is gemeng en gelaat om af te koel tot by die geskikte temperatuur. Intussen voer ek my ou legkaart boks uit met 'n oop gesnyde plastiek sakkie. Dit sal my gietvorm wees.
Vandat ek die seepsoda mengsel by die olie gooi en begin roer, neem dit minder as vyf minute vir die seep om te traseer. Terwyl dit nog redelik loperig is giet ek van die mengsel oor in 'n tweede houer waar die eksfoliasie middel en kleurstof in gemeng word. Teen die tyd dat ek die kleur klaar ingemeng het werk ek al weer met 'n toffie taai mengsel. Met 'n plastiek mes en silikon spatula speer ek dit so effektief moontlik in lae en maak dit toe met die plastiek sakkie se uithang punte.
Ek dink ek moet more 1/4 meer water by die resep sit en kyk hoe dit dan werk.
Hierdie 'batch' kan op 13 April uit die gietvorm gehaal word om te sny.
Op 14 April haal ek die seep uit die gietvorm:

Dit lyk of dit gesweet het omdat ek dit met die boks se deksel op laat staan het en daar is redelik baie lugborrels en krake omdat dit nie meer heeltemal loperig was toe dit uiteindelik in die vorm geplaas is nie.
My vriendin is mal oor die 'rugged look' van die seep maar dit lyk vir my nogsteeds nie na 'n bemarkbare produk nie. Ek sal dit verkies as ek 'n gietvorm en snymetode kan hê wat seep lewer wat meer eenvormig in vorm en grootte is.
Hierdie seep kan reeds teen 15 Mei hard wees, maar behoort teen 30 Mei heeltemal hard te wees

SB5 Seep van varkvet

My ma het vir my so 'n halwe bottel varkvet wat sy uitgebraai het gegee om te gebruik in by seep maak eskapades. Nadat dit vir twee weke op die kas vir my gestaan en loer het het ek vanoggend, 10 April 2016, uiteindelik die taak aangepak.

Ek het die verseep waarde gebruik om die hoeveelheid NaOH te bepaal, en een derde van die olie se gewig in water gebruik.
Die mengsel het baie lank geneem om te verseep en ek moes dit kort kort verhit en hard klits met die staaf menger voordat dit uiteindelik traseer stadium bereik het. Die varkvet reuk is ook baie moeilik om te verdoesel. Uiteindelik het ek die seep gehad om nie heeltemal soos medisyne te ruik nie. Nadat dit afgekoel het tot <40°C en toe in 'n plastiek druiwe houer waarvan ek die onderste gaatjies toe geplak het, gegiet. Dit kan teen 13 April uitgehaal word om te sny as dit hard genoeg is, maar sal eers op 10 Julie 2016 gereed wees vir gebruik.
Op 15 April haal ek die seep uit die gietvorm. Die druiwe houer het baie goed gewerk vir die doel. 
Die seep het verhard tot 'n baie mooi soliede seep met 'n sagte tekstuur as jy daaraan voel. Dit stink ook nie meer so erg nie.


SB4 S.A.L.M. eko SEEP van herwinde kafee olie I

9 April 2016
Vandag word kafee olie op die proef gestel

Ek het die olie eers deur 'n doek gesyg om seker te maak daar is nie soliede stukkies ou kos wat agter gebly het nie. Buiten vir die donker kleur was dit verbasend vry van enige ou kos. Leë melkhouers wat oop gesny is dien as gietvorms met 'n bespoke boksie wat netjies daarom pas om die kante regop te hou. Ek het dit uitgevoer met herwonne papier en ek hoop dat dit sal help met die uithaalslag.
Nadat die olie en seepsoda oplossing 'n emulsie gevorm het het ek die staafmenger gebruik om vinniger by die trasseerstadium uit te kom, maar dit blyk onnodig te wees want die emulsie verander baie vinnig in 'n dik taai mengsel wat amper lyk soos gekookte kondensmelk.  Omdat dit so vinnig dik geword het moes ek dit met 'n lepel in die gietvorms in druk; dit was glad nie meer vloeibaar nie.
Hierdie seep kan op die vroegste op 11 April 2016 uit die gietvorms gehaal word om gesny te word. Ek hou maar duime vas dat daar nie te veel lugborrels tussen in beland het nie.

Op 12 April haal ek die seep uit die gietvorms... die papier voerings wat ek gebruik het het vasgeplak!
Nadat ek die papiere met moeite verwyder het lyk die seep maar oes. Dit het redelik min lugborrels aan die binnekante en dit het 'n mooi redelik uniforme karamel kleur. Dit ruik baie lekker.

Hierbo is die seep soos dit uit die melkhouer gietvorms gekom het. Buiten vir die papier wat vasgeplak het hou ek steeds nie van die vorm nie. Ek sal maar verder eksperimenteer totdat ek iets kry waarmee ek tevrede is.

Ek het twee van die drie blokke in 'n vleismeul gemaal. Ek het dit eers oorweeg om dit te laat smelt oor hitte en dan weer te giet, maar dan gaan die groen effek van die hele ekskursie vir my verlore. Dit help veel jy herwin ou olie, maar gebruik 'n ton steenkool se elektrisiteit om dit te verwerk nie. Ek dink ek moet eerder hierdie seepwurmpies as insetsels in ander seep gebruik as om dit te smelt.
 

Maandag 04 April 2016

SB3 Herwinde kookolie Sitronella seep met koffie eksfoliant

Gemaak op 3 April 2016.
Volgens die Verklarende Afrikaanse woordeboek is eksfoliasie die afsplintering van lae, bv. by minerale en dit kan ook die proses wees waartydens sekere boomsoorte bv. bloekoms ou bas verloor. Van daar dat ek die Deense woord eksfoliant leen omdat ek nie weet wat die Afrikaans vir 'exfoliant' is nie.
Na my vorige olie herwinning het ek net 400ml ou olie oor. Om die resep eenvoudig te hou kroek ek bietjie deur vars olie by te gooi om by 500ml uit te kom. Ek het so 10ml hempolie oorgehad en 90ml olyfolie ook bygevoeg.

Proses:
Voeg seepsoda by water en laat afkoel tot tussen 50° en 55°C
Meng seepsoda-oplossing met olie deur eers met 'n lepel te roer totdat dit 'n emulsie vorm en dan met 'n staafmenger te meng totdat die mengsel traseer.
Gooi 1/3 van jou mengsel in 'n aparte houer, dit word nie gekleur nie. Voeg 'n paar druppels sitronella olie daar by.
Voeg 1 eetlepel 'wheat grass' poeier by die oorblywende mengsel in die mengbak. Voeg ook een eetlepel oorskiet koffiemoer daarby, dit dien as eksfoliant. Roer dit goed deur. Voeg 'n paar druppels sitronella olie daar by.
Gooi jou seepmengsel in lae groen en wit in jou gietvorms. Roer liggies deur met 'n sosatiestokkie om patrone in die seep te maak.
Hierdie sepies staan in die gietvorms totdat dit droog is. Dit behoort ongeveer 45 dae te neem, so die eindproduk kan  so teen 18 Mei gereed te wees om uit die gietvorms te haal. Ek kan nie wag nie!
Ek kon nie so lank wag nie en het besluit om die sepies uit die gietvorms te haal en dit oop te laat droog. Die resep is perfek, maak die 'teflon coated' pannetjie het dit nie gemaak nie. Silikon, plastiek of hout bly maar die ideale gietvorms. 

10 April 2016.
Nadat ek die buitekant netjies gemaak het met die groenteskiller kon ek dit nie weerstaan om dit oop te sny en te sien hoe dit binne lyk nie:


Te pragtig:
Dit laat my dink aan turksvye!
 

SB2 Eerste poging: seep van ou kookolie

My eerste opbrengs
Ek het op YouTube op 'n oulike video afgekom wat presies verduidelik hoe om ou olie in seep te verander: JooSoap: eco-friendly cleaning soap made from used cooking oil
 Die resep is eenvoudig en benodig slegs olie, gedistilleerde water en seepsoda. Wat ek anders doen as in die video is om die seepsoda by die water te voeg, en nie andersom nie. As jy die water by die seepsoda gooi kan dit spat en jou brand.
Die eerste hindernis in my pad was dat ek self nooit kos in olie bak nie en gevolglik nooi so 'n groot hoeveelheid ou olie tot my beskikking het dat ek sal kan seep maak daarvan nie. Hier het my vriendin tot my redding gekom en vir my 1.4 liter olie gegee wat sy in elk geval van moes ontslae raak. Dit was redelike skoon gebruikte olie en het nie gelyk soos die wat jy in 'n kafee se kombuis sou verwag om te vind nie.
My resep was as volg:
150g NaOH
280ml water
1 liter gebruikte olie
1 eetlepel wasgoedversagmiddel en roos-en vanilla essense vir reuk
Ek hou van hierdie proses want daar word geen verhitting van die olie verlang nie, wat dit vir my met klein kinders in die huis veiliger maak.
Jy meng die water en die seepsoda en laat dit dan eenkant staan op af te koel. Ek het 'n baie handige geen kontak infrarooi termometer op Bid or Buy gekoop om die temperatuur te kan monitor.

Wanneer die seepsoda-oplossing afgekoel het tot tussen 50° en 55°C voeg jy die oplossing versigtig by die olie. Meng dit met jou seeplepel totdat dit 'n emulsie vorm.
Hier wyk ek weer af van die instruksie video. Hulle roer aanhoudend totdat die olie traseer stadium bereik. Vir so 'n roerdery het ek nie tyd nie, ek gebruik 'n staafmenger vir die res van die mengery.
Na 'n kort klitsie het die ou olie in 'n dik mengsel verander wat lyk soos vla of witsous.  Ek was so opgewonde oor die emmer vol seep wat ek uiteindelik kon kry om te trasseer dat ek dadelik deur die huis gevlieg het om te sien of iemand wakker is om in my vreugde te deel; maar tevergeefs, al drie van hulle was in droomland!
Op hierdie punt het ek die reukmiddels bygevoeg en die mengsel toe in 'n ou legkaartboks wat met 'n winkelsakkie uitgelê is gegiet om te stol.
Na 'n dag het die seep 'n stewige blad gevorm wat ek kon uithaal en sny. Die kinders het met koekiedrukkers sterretjies gemaak.
Hierdie sepies moet nou vir 4 tot ses weke staan terwyl die verseping voortgaan en die seep uitdroog. op 29 April kan ek dit toets om te sien of dit al genoeg gedroog het.

GB1/RB1 Gliserienseep gemaak van die eerste poging seep basis

Sal die seep die toets slaag?

  Die volgende stap nadat ek tot 'n sekere mate sukses bereik het om 'n seep basis vir smelt en giet te skep, was om te kyk of ek dit kan regkry om gliserienseep daarvan te maak wat ook weer gesmelt en gegiet kan word.  Dion se gedagtes was weereens by verre die eenvoudigste mees verstaanbare uiteensetting van stappe om by gliserien seep uit te kom. 
Omdat ek nie lus was vir 'n groot gemors as dit dalk flop nie het ek 100g van die seep wat ek gemaak het afgeweeg en my alkohol, gliserien en suiker daarvolgens bereken: 
25ml alkohol
18g suiker met genoeg warm water om dit op te los
13ml gliserien
Terwyl ek besig is om die seep te roer en te wag dat dit helder raak sodat ek dit kan kleur en geur het daar 'n dik skuim bo-op gevorm soos wat gebeur wanner mens konfyt kook en daar onsuiwerhede is wat bo-op skuim. Toe besef ek waar ek die flaters begin het
Sommer reg by stap 1 het ek al drooggemaak!
Mens moet die seepsoda met gedistilleerde water meng omdat dit reageer met al die ander goed in die water en daar dan minder seepsoda beskikbaar is om jjou vette te verseep. My rooibostee het dus glad nie bygedra tot die heilsaamheid van my eindproduk nie, inteendeel, dit het net veroorsaak dat die produk redelik vetterig ruik.
Ten spyte van die flater kon die seep steeds 'n bruikbare gliserienseep vorm. Ek het dit met koekkleursel gekleur en vanilla- en roosessens bygegooi vir reuk.
In die toekoms sal ek gedistilleerde water gebruik. Ek wil ook eksperimenteer met natuurlike kleurmiddels soos borrie en paprika. Essensiële olies sal beter werk vir reuk omdat dit kan bydra tot die heilsaamheid van die produk en die reuk beter bind met die seep as wat essense doen.

Gliserien seep besig om te stol
Vars gesny

Saterdag 02 April 2016

SB1 S.A.L.M. eko SEEP: My eerste seepmaakpoging

Na ure se navorsing op die internet, wroeg deur tallose smelt en giet artikels en bestanddele lyste sonder hoeveelhede kom ek uiteindelik op 'n resepmaakmetode af wat vir my werk. Nou begin ek bestanddele bymekaarmaak. By 'n vriendin se vriendin koop ek seepsoda. My ma gee vir my ñ halwe houer klapperolie. By Bakers Bin kry ek palmolie, castor olie by die apteek.
Ek het 
370g klapperolie
90g   castorolie
260g palmolie 
Ek gebruik die verseepwaardes wat breedvoerig en eenvoudig verduidelik word in Dion se gedagtes
Net om seker te maak laai ek 'n 'app' genaamd 'Saponify' op my foon en tik my olie hoeveelhede in.
Wraggies, Dion se tabelle is in die kol! 118g Seepsoda en 240ml vloeistof word benodig om my 720g olies in seep te verander.
Ek kyk die spulletjie bestanddele so en dink by myself: dis darem vreeslik vaal.... Sumier gooi ek 'n rooibosteesakkie in die afgemete water en toe begin ek die instruksies volg:
Sit die veiligheidsbril op en trek handskoene aan
*Haal die teesakkie uit en kyk tevrede na die diep rooi mengsel in die bekertjie
Gooi versigtig die seepsoda by die water sonder om te spat - vermy die dampe
Laat dit staan om af te koel
Smelt al die olies saam in 'n dubbelkoker - verwyder van die hitte
 *Nou probeer ek met die agterkant van my hand vasstel of die twee konkoksies dieselfde temperatuur het. Uiteindelik raak ek ongeduldig en volg die instruksies verder
Ek gooi die seepsoda oplossing by die gesmelte olies en roer dit met 'n opgeofferde houtlepel totdat dit 'n emulsie vorm. Ek is heel in my skik met hoe vinnig dit plaasvind.
Nou begin ek met die groot roer om die olies te laat verseep, en ek roer, en ek roer....
*Naderhand maak dit so half loperige korrelrige taaierige massa en ek dink by myself, dis nou nie presies hoe ek dik vla ken nie, maar dalk lyk dit so waar al die dames bly met hul oulike YouTube video's...
Selfoortuigd dat my seep nou traseerstadium bereik het haal ek dit van die hitte af.
Na ñ rukkie voel-voel ek aan die buitekant van die pot en besluit dat dit nie meer te warm is om in die gietvorms te gooi nie. Ek het 'n oulike winkelkolwyntjie houer daarvoor gebêre. Soos hulle op die video'tjies wys het ek 'n ou handdoek onder die gietvorm gesit om dit dadelik te kan toemaak. Ek gooi die gemengde massa in die gietvorms, vou dit toe met die handdoek, sit dit iewers waar die kinders dit nie sal afstamp nie, en laat dit staan.
Na 20 ure kan ek nie meer wag nie. Ek draai die handdoeke los en 'pop' my 'sepies' uit die gietvorms, maar wat 'n teleurstelling!
Die mengsel was duidelik nog te warm en die onderkante van my kolwyntjiehouers het almal ineen gekrimp. Reg rondom die misvormde bolkoeke is daar so dowwe laag wat lyk of dit skuim kon wees in 'n vorige lewe en in die koekerasie lyk dit of alles wat veronderstel was om te meng, nie so mooi gemeng het nie.
Moedig pak en die gedroggies in 'n kartonboks en sit dit bo op die kas, so ewe met 'n datum op die kant: 23-03-2016
Twee dae later kan ek dit nie meer hou nie! Ek haal die boks af en rasper die bolle dat daar niks van dit oorbly nie. Terug is die dubbelkoker. Smelt alles. Dit lyk nog steeds nie heeltemal soos dik vla nie maar wat wou!
Die keer giet ek dit in 'n keramiekbak wat met 'n winkelsakkie uitgelê is. Ek maak dit weer met handdoeke toe en laat dit oornag staan. Op die foto is my hersiene poging. Dit lyk darem meer soos seep, maar ruik nog steeds meer na olie as na seep. Die keer het ek meer hoop dit dit na 4 weke meer seperig sal wees.

Vrydag 01 April 2016

Herwinde paasfeesplakkaatprojek

Na tien jaar se aan-en-af opbreek en bou het die dame in blou uiteindelik by 'n punt gekom waar sy tot so 'n mate voltooi is dat sy ieder op 'n bord vasgeplak of in die asblik hoort; en toe lê sy die hele eetkamertafel vol. Nadat ek by drie verskillende skryfbehoeftehandelaars nie 'n groot genoeg karton kon opspoor nie, stap ek uit pure desperaatheid by 'n plastiekwarewinkel in en hoop om iets raak te sien wat moontlik kan werk. Van dit wat te koop aangebied is kon niks deug nie, maar toe ek opkyk sien ek die groot winkelplakkate waarop winskopies geadverteer word. Ek vra toe of dit vir my moontlik sal wees om een van die ou plakkate te koop, of te kry... maar die entoesiasme daar was nie vreeslik hoog nie.
 My volgende stop was die Pick 'n Pay. Nadat ek al my goetertjies opgespoor en betaal het vra ek vir die kassier wie vandag die bestuurder is, en ek verduidelik dat ek graag een van die paasfeesplakkate sou wou hê. My versoek is hier baie meer openhartig oorweeg en voor ek by die deur uit is het ek twee paasfeesplakkate om my legkaart op vas te plak. Na 'n hele nag se blokkies plak en ernstige agtergrondkroekery is die dame stewig op winkelplakkaat vasgesit en wag nou om geraam te word.
Ek sien uit daarna om haar teen die muur te kan hang en my kinders te kan vertel van lank lank gelede toe daar 'n man was met die naam Leonardo da Vinci...